Recipes

Kortpad Florentines

todayApril 3, 2026 1

Background
share close

Idees met sjokolade

Met sjokolade maak die gehalte wat jy koop regtig ’n verskil – nie net aan die smaak nie, maar definitief ook aan die tekstuur. Sjokolade bestaan tipies uit verskillende persentasies soliede kakaodele, kakaobotter, en -poeier wat alles van verwerkte kakaobone afkomstig is. Aangesien die kakaobone van nature ’n meer bitter smaak het, bevat meeste sjokolade natuurlik ook byvoegde suiker.

Donkersjokolade bevat ’n baie hoër persentasie soliede kakaodele, minder kakaobotter (vet) en ook minder suiker as ander sjokolade. Die persentasie kakao word dikwels op die verpakking aangedui. Donkersjokolade word gereeld as ’n gesonder opsie beskou – nie net omdat dit minder suiker bevat nie, maar ook omdat die kakaobone minder verwerk is en daarom selfs nog van die natuurlike antioksidante bevat.

Donkersjokolade het soms ’n effens bitterder smaak, waaroor baie mense juis dol is. Die ‘donker’ smaak is inderdaad ideaal om mee te bak en kook en dit is beslis wat Heleen Meyer vir die Kortpad Florentines se resep en haar ander sjokolade-idees aanbeveel.

Melk- en witsjokolade is meer verwerk, soeter en soms romeriger. Afhangend van die handelsmerk, kan dit selfs melk of melkpoeier bevat. Melksjokolade bevat minder soliede kakaodele as donkersjokolade, maar witsjokolade min of geen. Elke handelsmerk het hul eie ‘resep’ om ’n spesifieke smaak te verkry. Melksjokolade is minder suksesvol vir gebak, juis omdat die sjokoladesmaak maklik deur ander bestanddele oorheers kan word, in vergelyking met die prominenter smaak van donkersjokolade.

Sjokoladesplinters is kleiner ‘druppels’ sjokolade en baie gewild vir gebak. ’n Goeie gehalte splinter is beslis die moeite werd. Terloops, goeie gehalte kakaopoeier is ook geuriger om mee te bak en kook.

Sjokolade van ’n beter gehalte bevat altyd kakaobotter, maar goedkoper of swakker kwaliteit bevat dikwels ’n vet met ’n plantbasis (vegetable fat) wat dit minder na sjokolade sal laat smaak. Wat as baksjokolade (baking chocolate) verkoop word, is nie ideaal om mee te bak of kook nie, omdat dit inderdaad baie min kakaobotter of kakao bevat en selfs ’n minder aangename smaak het. Dié opsie is meer geskik vir garnering en dekorasie-doeleindes.

Heleen se vyf vinnige idees met sjokolade:

  1. Rasper donkersjokolade oor roomys, in plaas van ’n ryk sjokoladesous. Of selfs oor ’n porsie ongegeurde jogurt en sit met bessies of grenadilla-pulp voor.
  2. Roer 2-3 blokkies donkersjokolade in ’n beker kokende warm melk en sprinkel ’n bietjie gemaalde kaneel oor – ’n bederf-drankie in ’n kits. Of vervang die kaneel met ’n tikkie brandrissie, as jy daarvan hou.
  3. Smelt donkersjokolade in ’n glasbak, oor liggies pruttende water. (Sien die notas in die resepmetode hier onder, waar die sjokolade gesmelt word.) Doop vars vrugte soos appel, peer of aarbeie in die gesmelte sjojolade. Pak dit op ’n bord en laat die sjokolade stol om ’n vinnige soet bederfie te maak.
  4. Smelt donkersjokolade en roer jou gunsteling-neute daarby in. Skep lepelsvol op bakpapier en laat tot gestol. Gedroogde vrugte, soos mango, perske or rooibosbessies (cranberries) wat kleiner gesny is, kan saam met die neute, maar vir ’n ander geurkombinasie, ingeroer word.
  5. Kortpad ‘Florentines’ – sien die resep hier onder.

Florentines is ’n Italiaanse lekkerny van neute en gedroogde vrugte wat met suiker en botter gemeng en dan gebak word. Daarna word die basis met gesmelkte sjokolade geverf. Dis heerlik, maar jy het heelwat meer tyd nodig om dit te maak. Probeer gerus hierdie vinnige weergawe van Heleen Meyer en wees kreatief met die geur-elemente wat jy wil byvoeg. Neute en gedroogde vrugte is altyd goeie opsies, maar moenie skrikkerig wees vir die geroosterde sesamsaadjies of klapper in haar lysie nie – dis ongelooflik geurig saam met die sjokolade. Kyk ook na die wenke wat sy hier onder gee.

Kortpad ‘Florentines’

Resep deur Heleen Meyer

Lewer ongeveer 22-24 sjokolades

22-24 klein truffelpapiertjies

200 g donkersjokolade van goeie gehalte, in stukkies gebreek (’n blok sjokolade of sjokolade-splinters kan gebruik word)

Bolaag-opsies – ’n totaal van omtrent 45 ml (3 e) bestanddele is genoeg vir die hoeveelheid sjokolade

  • gedroogde peer, appelkoos of mango, in klein blokkies gesny
  • grofgekapte neute, soos makadamias of amandels, gerooster is besonder geurig
  • geroosterde sesamsaad of geroosterde droë klapper of -skaafsels
  • rou kakaoboon-splinters (raw cacao nibs) of vlokkies growwe sout
  1. Pak truffelpapiertjies op ’n bakplaatjie of groot bord uit.
  2. Plaas sjokolade in ’n glasbak oor liggies pruttende water, maar maak seker dat die bak nie aan die water raak nie. Roer gereeld tot die sjokolade heeltemal gesmelt het en ’n gladde mengsel vorm. Moenie die water te warm maak nie, want dan kan die sjokolade maklik oorverhit en klonterig word. MOENIE die sjokolade in die mikrogolfoond smelt nie, want jy kan sukkel om die temperatuur goed te beheer en dan kan die sjokolade ook klonte maak.
  3. Skep ongeveer 7,5 ml (½ e) gesmelte sjokolade in elke truffelpapiertjie.
  4. Strooi enige kombinasie van bolaag-bestanddele oor die sjokolade, voor dit weer gestol het. Druk die bestanddele liggies in die warm sjokolade vas.
  5. Laat afkoel en verkoel dan vir 2-3 ure in die yskas of tot heeltemal gestol.
  6. Trek die papiertjies af as jy wil en sit as deel van ’n kaasbord of as nagereg met ’n koppie koffie voor.

Wenk: Roer ’n knippie gemaalde speserye soos kardemom, kaneel of rooipeper, by die gesmelte sjokolade voor dit in die papiertjies geskep word. Dit gee ’n verrassende lekker smaak aan die bederfies.

Vir nog resepte soos hierdie, besoek Heleen se webwerf.

Foto deur Adel Ferreira, vir LiG Tydskrif

Written by: Mike Stroud

Rate it

Similar posts

Post comments (0)

Leave a reply


0%