Listeners:
Top listeners:
play_arrow
Radio Today Radio Today
play_arrow
Evening News Mike Stroud
play_arrow
Evening News Mike Stroud
Dié lekker groente is ’n immergewilde bygereg in Suid-Afrika, veral in die somermaande, wanneer mielies ook in seisoen is. Mielies se natuurlike soet smaak pas by soveel ander geure, wat dit juis ekstra veelsydig maak. Het jy al gaar mielies oor die kole gerooster vir ’n ekstra lekker geur? Dis baie maklik en werk veral goed as die mielies reeds gaar is. Maak seker dat die kole nie te warm is nie, sodat die mieliepitte eweredig rooster en net liggies skroei, maar nie brand nie. Die effens gekaramelliseerde en rokerige smaak is regtig spesiaal en as jy dit eers een keer so geëet het, gaan jy dit elke keer wil rooster.
Enige van die ‘gebraaide’ mielies aan die stronk wat oorbly, kan afgesny word en die volgende dag op verskillende maniere gebruik word. Roer dit by ’n groenslaai in, gebruik dit in ’n salsa met ’n bietjie brandrissie en dis heerlik in enige eiergereg, soos ’n omelette of selfs in roereier.
Heleen Meyer deel hier drie geurige sous-idees om die mielies mee voor te sit en dit ekstra interessant te maak.

Mielies aan die stronk – 3 maniere
Resep deur Heleen Meyer
Lewer 6 – 8 porsies
6-8 mielies aan die stronk
Opsie 1:
45 ml (3 e) olyfolie
10 ml (2 t) gekapte vars Italiaanse pietersielie
10 ml (2 t) sesamsaad
2,5 ml (½ t) paprika of rooipeper na smaak (of ’n klein knippie gerookte paprika)
Opsie 2:
30 ml (2 e) sagte botter
1 skyf feta (ongeveer 70 g), gekrummel of 60 ml (¼ k) gerasperde pecorino-, parmesaankaas of wit cheddarkaas
1-2 jalapeños of pikantrissies (Peppadews®), fyngekap
Opsie 3:
45 ml (3 e) tahini (sien wenke)
15 ml (1 e) water of meer na smaak
10 ml (2 t) suurlemoensap
10 ml (2 t) gekapte vars Italiaanse pietersielie of tiemie
1. Plaas mielies met 125 ml (½ k) water in ’n groot kastrol – geen sout is nodig nie. Bring tot kookpunt en prut met ’n deksel, oor lae hitte, vir net 6-8 minute of tot gaar. Die mieliepitte moet net heldergeel word, maar moenie dit te lank kook nie, dan krimp die pitte en verloor hul sappigheid.
2. Dreineer die mielies deeglik. Sit dit net so met een van die sous-opsies voor, of rooster eers oor matige kole, as julle dalk braai. Rooster die mielies net vir ’n paar minute aan al die kante tot goudbruin. Hou die mielies dop – dit brand maklik.
3. Opsie 1: Meng die bestanddele saam. Sit voor met die mielies en laat elkeen aan tafel, van die olie oor die mielies drup – ‘n heerlike alternatief vir botter.
4. Opsie 2: Smeer van die botter oor die warm mielies en sprinkel dan met ’n bietjie kaas en jalapeños of pikantrissies.
5. Opsie 3: Meng al die bestanddele saam en roer nog water by tot die dikte van jou keuse. Sit voor en laat elkeen lepeltjiesvol oor die warm mielies skep.
Wenke:
1. Tahini (’n sesamsaadpasta) is in groot supermarkte beskikbaar, dikwels in die gesondheidsafdeling. Sommige handelsmerke is baie dik, so roer meer water by, as dit nodig is. Onthou dat die warm mielie dit ook loperiger sal maak. As jy nie van tahini hou nie, kan jy ongegeurde gladde maaskaas met die suurlemoensap en kruie geur.
2. Enige van die souse is heerlik oor geroosterde groente of liggies gestoomde groen groente.
Vir nog resepte soos hierdie, besoek Heleen se webwerf.
Foto deur Adel Ferreira vir LiG Tydskrif
Written by: Mike Stroud
8:00 am - 10:00 am
10:00 am - 10:30 am
10:30 am - 11:00 am
11:00 am - 12:00 pm
12:00 pm - 1:00 pm
Post comments (0)